Hierdie Statebybel is in 1663 gedruk te Leyden in Nederland, deur die Weduwee en Erfgename van Johannes Elzevier. Gedruk in 1663, is hierdie Statebybel vanjaar 362 jaar oud.
Elzevier was die naam van ń baie bekende boekdrukkers-familie te Leyden. Die Elzevier familie was die boekdrukkers van die Universiteits-biblioteek te Leiden. Op die voorste titelblad asook die middel-titelblaaie van die 1663 Elzevier Statebybel word dan ook pertinent vermeld "Boeckdruckers van de Academie".
In 1663 het die Elzevier familie ń oplaag Statebybels gedruk in ń pragtige groot folio formaat. Wat die Elzevier Statebybel onderskei het van ander Statebybels, is dat dit die heel eerste en ook die enigste Statebybel uit die 1600's is wat gedruk was in die maklik leesbare Romeinse letter in plaas van die moeilik leesbare Gotiese letter.
Hierdie Statebybel verkeer in ñ bogemiddelde goeie toestand vir sy ouderdom. Die Bybel is 100% volledig, alle bladsye is daar, en die teksblok verkeer in ñ bogemiddelde goeie toestand. Die teksblok sit stewig in sy buiteblad, die bindwerk is goed, en die Statebybel kan met vrymoedigheid hanteer word, uit die aard van die saak op ñ simpatieke manier soos wat dit hoort by ñ kosbare Boek wat 362 jaar oud is.
Hierdie goed bewaarde eksemplaar het ook nog sy volledige geelkoper hoek-beslag soos wat hy 362 jaar gelede gekom het uit die drukkery van die Elzevier familie. Die twee geelkoper knippe ontbreek.
Soos alle folio formaat Statebybels uit die 1600's en 1700's, bevat hierdie Bybel ook die Ou Testament en die Nuwe Testament, asook die Apokriewe Boeke.
Die afmetings van hierdie pragtige groot folio formaat Statebybel is 46cm x 29cm x 12cm.
Hierdie Statebybel het eenmaal in sy leeftyd restorasie werk ondergaan en sy leer rugkant is vervang. Die belangrikste van alles is dat hierdie restorasie werk betyds onderneem was om verdere agteruitgang te stuit, en dat dit op ñ baie profesionele manier gedoen is.
Om op te som. Hierdie goed bewaarde Statebybel verkeer in ñ bogemiddelde goeie toestand vir sy ouderdom, en dit is ñ netjiese voorbeeld van ñ groot folio Statebybel uit die middel 1600's. Dit is sulke Statebybels wat Jan van Riebeeck en die stamvaders van Afrikaner families vanuit Nederland saam gebring het met die volksplanting aan Kaap.
Gratis versending met Courier Guy of PostNet.