Main centres: | 1-3 business days |
Regional areas: | 3-4 business days |
Remote areas: | 3-5 business days |
|
PORTCHIEGebore 23 November 1963 in Pietersburg. Groei op in Tweeling in die Vrystaat. 'n Seun van 'n groenteboer en winkeleienaar. Matrikuleer aan Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch en kry sy B-Com graad in Stellenbosch.
In 1991 begin ek skilder as 'n stokperdjie en later doen ek huisuitstallings. In 1994 doen ek 'n groot solo uitstalling met 100 werke en verkoop alles in een aand en besluit toe om skilder 'n voltydse beroep te maak. Ek verhuis in 1995 na Stellenbosch waar ek 'n studio begin. Stelselmatig het gallerye by my begin werke aankoop.
Nuwe solo uitstallings het gevolg. Tot op hede het ek 57 solo en 39 deeluitstallings gehad (binnelands sowel as oorsee). My werke is opgeneem in groot privaat, sowel as maatskappy versamelings. Ek het tot nou meer as 8 000 werke gemaak en verkoop. Ek skryf die sukses van my werk toe aan die unieke karakter daarvan. My werk is 'n mengsel van impresionisme en ekspresionisme, op 'n naiewe manier.
Persoonlik dink ek dis makliker om 'n vars styl te begin sonder die invloed van 'n klomp leermeesters. Ek werk met 'n vreugdekonsep en vreugde kan die beste beskryf word met kleur - so, my werk is baie kleurvol. My bome in my landskappe, doen ek altyd met skakerings van bloue, omdat ek glo die lug filtreer deur die bome en die lug is tog blou. As soveel blou deur bome gaan, moet dit tog later afsmeer daarop.
Ek werk graag met mense wat eenvoudige dinge doen in skilderye, soos mense wat lees of fietsry of touspring. Op 'n uitstalling werk ek gewoonlik met 'n derde ou goed, 'n derde nuwe goed en 'n derde eksperimentele goed. Ek moedig graag jong kunstenaars aan om altyd eerder vars werk te lewer as om nabootsings van ander werk, goed te probeer doen. Daar is nie 'n reg en 'n verkeerd in kuns nie. Die geheim lê in die oorspronklikheid daarvan.