Agter 'n Eland aan Een jaar in Namibie - Piet van Rooyen - Queillerie - 1995, eerste uitgawe, eerste druk - 161pp, lyntekeninge deur Bennie Kruger, kaart, kleur foto's - sagteband in goeie toestand - Intern skoon en stewig gebind.
Posgeld en verpakking R28.00
n TITEL soos ``dagboek van 'n hardekop'' sou ook deug. Dít sou sommer terselfdertyd 'n mens se ambivalente gevoelens oor die skrywer en sy nuwe nie-fiksie-aanbod goed saamvat. Aan die een kant kan 'n mens nie anders as om Piet van Rooyen se energie, vasberadenheid en vele talente te bewonder nie. Maar, op grond van sy eie getuienis, met baie empatie vir mense wat saam met hom moet en wil leef, en veral sy eggenote Annelie. Agter 'n Eland Aan is op die eerste vlak die feitelike verhaal van die gesin Van Rooyen se groot eksodus Namibië toe, agter Piet, en Piet alleen, se groot droom aan om in sy geboorteland te gaan boer. 'n Mens kan die besware en vrese van sy vrou, 'n Bolandse boorling, heeltemal verstaan. Dr. Van Rooyen was 'n gesiene dosent in ontwikkelingsadministrasie en inheemse reg aan die US, en die gesin was uiteraard goed en gelukkig daar gevestig. Behalwe Piet vir wie selfs stokperdjies soos skuba- en snorkelduik, valskermspring en die ge reelde jag- en hengeltogte na sy geliefde Suidwes nie meer genoeg ontvlugting uit die ``kunsmatige'' en ``oorbeskaafde'' lewe in Wes- Kaap gebied het nie. Die eland word in dié boek 'n simbool vir die siel. En dus was die terugkeer na Namibië vir hom ook 'n geestelike, innerlike reis. Almal wat iets van Van Rooyen weet, sal besef dat hy sy selfopgelegde taak sou volbring. Die boek vertel besonder onderhoudend hoe al die hindernisse oorkom is. In 'n poging om in die nuwe land kop bo water te hou, het hy gou 'n deeltydse pos as landbouraadgewer in Boesmanland aanvaar. En so, amper toevallig, word die boek genadiglik en betyds verhef bo 'n te persoonlike kroniek van 'n wankelende huwelik. Met tipiese energie en toewyding gaan Van Rooyen sommer behoorlik in die San wêreld op. Veral puik is sy begrip, beskrywing en ontleding van die stryd tussen dié oerkultuur en die ``beskawing'' en hoe die Boesmans ondanks en dikwels weens ingrepe van goedbedoelende Westerling êrens in die middel misrabel gevange sit. Sonder om te veel daarvan te maak vind hy, en die leser, parallelle maar ook kontraste tussen die Boesmans se oorlewingstryd en sy herhaalde pogings om 'n eie lappie grond, waar die eland nog vry kan asemhaal, te bewoon en te bewerk.