Main centres: | 1-3 business days |
Regional areas: | 3-4 business days |
Remote areas: | 3-5 business days |
1962 Uitgawe in hardeband sonder stofjas. Boek se skutblad vol bibstempels en die tekens van kinderhandjies wat dol was oor hierdie boek, is te bespeur!
Toestand 6/10
Lees wat skryf een van ons gerespekteerde skrywers in Afrikaans destyds oor hierdie juweel: -
Riana Scheepers
Riana Scheepers, skrywer en rubriekskrywer wat pas gedebuteer het met die digbundel Met die taal van karmosyn:
As kind het ek Die wonderlike motor van Barnabas Bombas deur W.O. Kühne gelees. Letterlik stukkend gelees. Toe my seuns klein was, was hulle die oorsaak dat die boek verder stukkend geraak het, want dit was ook húl gunstelingboek.
Barnabas Bombas gaan nie oor sosiale probleme en onheile en vergrype soos vandag se boeke vir jong sielietjies nie, dit is plein pret en plesier en avontuur. Dit is geskryf in sulke lekkerlees-rym en ritme dat ek nou nog bladsye daarvan uit my kop kan opsê.
Die storielyn is kort en kragtig: klein Barnabas Bombas wat saam met sy mense in 'n vissershuis op Waenhuiskrans woon, het op 'n dag 'n groot geluk gehad. Op die strand tel hy 'n balie en 'n bad op, en daarmee bou sy pa vir hulle 'n wonderbaarlike motor. En dan gaan die gesinnetjie op 'n fantastiese reis deur ons mooi land met 'n motor wat loop op olie wat van seebamboes gekook is!
Op die pad gebeur allerlei dinge: die motor ontplof, die kinders val af, maar hulle sien ook telkens 'n ``mooi deel van ons land''.
As ekstra lekkerte het dit ook nog die kostelikste illustrasies. My boek dateer van 1962, en Kühne se vrou, Dorothy Hill, was die illustreerder. 'n Latere uitgawe van hierdie boek, met ander, moderner illustrasies het nie náástenby dieselfde sjarme en lewe gehad nie.
Ek het as kind nie besef hoe 'n groot invloed hierdie boek op my sal hê nie. Ek weet dit ook eers vandag. Want die illustrasie van die vissershuisie waar die Bombas-gesinnetjie so lieflik woon, is 'n replika van my eie vissershuis op Paternoster.
G'n wonder dat ek my huis die Bombas-huis noem nie.
Onlangs sit my ma en 'n vriendin van my, albei dames reeds in hul sewende dekade op aarde, in my sitkamer en lees beurtelings uit my Bombas-boek.
En hulle skree van die pret en plesier.
Nou ja toe.