| Main centres: | 1-3 business days | 
| Regional areas: | 3-4 business days | 
| Remote areas: | 3-5 business days | 

Protea Boekhuis, 2013. Stewige sagteband, 167 bladsye. Toestand soos nuut. Minder as 1kg.
Hierdie handvol  rubrieke Baarde, briewe en barmhartigheid van Doc Immelman word op die  agterblad deur Erns Grundlingh beskryf as “Namibië se eie Hemingway”. Nou ja, as  dit so is, kan ‘n mens my die Emily Dickinson van Suid-Afrika  noem.
Hemingway was ‘n baie  spesifiek gekodeerde skrywer en hierdie enigsins lawwe uitspraak verminder nie  heeltemal die bydrae van die stukke nie. Die rubriek is immers altyd róndom ‘n  persoonlikheid of persona gebou. Die goeie rubriekskrywer het ‘n handtekening en  kan sy leser verras. Dana Snyman se  kenteken is ‘n skeutjie nostalgie plus ‘n  opsommende einde. Johan van Zyl wissel weer sy aanslag af: humor, erns,  bitsigheid, nostalgie.
Hoe lyk ‘n Immelman-rubriek  wanneer ons die twaksakkie oopmaak?
Helder, konkrete  beskrywings soos onder meer in die aangrypende bydrae oor die dood van ‘n hond  (“Eros”) en enige persoon wat diere liefhet, sal met hierdie stuk kan  identifiseer. Dit is geskryf in ‘n onderbeklemtoonde sleutel en sonder  fieterjasies met ‘n treffende slot.
In “Raaisels” word daar ‘n  bietjie gespot met die menslike kondisie. Wat is die toppunt van eensaamheid?  Wanneer jy in die spieël kyk en niemand sien nie.
“Met verkyker en verkyk”  word ‘n stoutigheid met die leser gedeel. Iets waarmee hierdie geliefde  rubriekskrywer kon wegkom, omdat hy dikwels intieme ervaringe met sy leser deel  oor olifantjag en ander jagervarings.
Gebou rondom die ervarings  en mymeringe van die storieverteller en jagter, gee die rubrieke ‘n kykie in die  lewe van die skrywer. Die rubrieke is gestroop en essensieel. Daar is nie ‘n  woord uit sy plek nie, omdat die rubriekskrywer gewoonlik nie meer as 900 woorde  het nie.
Intelligent en onderhoudend  laat hy hom uit oor die funksie en betekenis van dagboeke en hy moedig lesers  aan om elke dag ervarings op te teken sodat hulle ervarings jare later  betekenisvol sal wees.
Hierdie bundel is Immelman  se tweede versameling rubrieke van die “meesterstorieverteller” en geliefde  Namibiese skrywer. Dit vang ‘n bepaalde tydsgees vas en soos met enige  rubriekskrywer sal daar bepaald aanhangers wees.  Vir diegene met ‘n knipmes en  botteloopmaker. Dis ook vir jagters en sommer net vir diegene wat hou van ‘n  netjies geskrewe rubriek oor uiteenlopende onderwerpe. Pretensieloos is dit. Dit  volg op die vorige versameling Ruacana tot Rosh Pinah (2011).