Bedoelde Land - F.A. Venter - 1968, eerste uitgawe, tweede druk - Tafelberg - 327pp -Hardeband in goeie toestand - Stofomslag toon baie ligte rakverweer - Intern: uit die boekery van Pieter W Grobbelaar, geteken en gedateer 1968.
Posgeld en verpakking R28.00
Die nuwe, maagdelike aarde is ryk en vrugbaar. Noudat dit vars deur die ploeg omgekeer word, ontvang dit byna hongerig die saad van koring en van mielies — wat groei met drif en weelde. Vir Rudolf Dreyer is dit inderwaarheid sy bedoelde land. Agter hom lê die smart van die dood van soveel dierbares — sy vader Helgaardt wat saam met Pieter Retief moes sterf, sy seun Fanus aan die Oosgrens, Buks by Bloukrans en die klein Nella tydens die rnartelende weke by Modderlaer.
Die jare van ontbering op die trek, die verskrikking van Bloukrans, die skok van Italeni . . . dit sal altyd deel van sy lewe bly. Maar hier in Natalia gaan hy ‘n nuwe begin maak. Hier in hierdie ryk aarde gaan hy vir hom ‘n tweede Grensplaas opbou — groter, mooier as die ou Grensplaas wat hy met soveel wroeging in die Kolonie moes agterlaat. Hier kan hy niteindelik wees wat hy wil wees — ‘n boer, vry van enige verknegting of bedreiging. Hier kan hy van Thomas, die enigste seun wat vir hom oorgebly het, maak wat hy van hom wou maak: ‘n voortsetting van homself, ‘n vrye man van die grond.
Vir hierdie ideaal het hy gewerk, dag en nag, totdat sy hande hard was van die eelte, sy bene gebewe het van moegheid. Halsstarrig wou hy sy oë sluit vir die bedreiging wat oor die jong republiek lê: die subtiele insypeling van Zoeloes, hul onverskrokke ideaal om te herwin wat hulle by Bloedrivier verloor het, die koms van die Engelse en die bedreiging van hul onafhanklikheid. Maar die geskiedenis moet sy onverbiddelike loop neem: daar is die vernederende slag van Congella, die mislukking van Boomplaats. Die martelgang van die Emigrante-Boere is nog nie verby nie, die vryheid ‘n ideaal wat skynbaar onbereikbaar is, die bedoelde land ‘n hersenskim.
En tog: juis deur die verlies van die pasgevonde vryheid het manne soos Rudolf Dreyer eers die ware betekenis van vryheid leer ken. Toe hulle weer uit hierdie bedoelde land moes trek, het die ware land van hul bestemming eers voor hulle gelê.
Dit is die sterk, haas profetiese slot waarmeeVenter in Bedoelde Land sy grootse werk oor die Groot Trek afsluit. In Bedoelde Land word daar ‘n nuwe, helder perspektief gewerp op alles wat vooraf gegaan het: Geknelde Land Offerland, Gelofteland. Maar eintlik is dit nie ‘n slot nie; die einde van hierdie roman dui eintlik op ‘n nuwe begin wat hierdie hele stuk geskiedenis sinvol en aktueel maak vir ons eie tyd.