Main centres: | 1-3 business days |
Regional areas: | 3-4 business days |
Remote areas: | 3-5 business days |
Leon Rousseau se biografie het die meerwaarde dat dit ook 'n boeiende blik bied op 'n woelige stuk Suid-Afrikaanse geskiedenis: die aanloop tot die Anglo-Boereoorlog in Transvaal. In die dekade voorafgaande aan dié beslissende stryd was Marais vanaf sy negetiende jaar! redakteur en later eienaar van die enigste koerant wat Paul Kruger geopponeer het.
Leon Rousseau se nuwe Marais-boek met sy tweetalige dubbellooptitel is 'n soort addendum by die biografie. Die opstel ``Eugène Marais and the Darwin Syndrome'' is 'n herdruk van Rousseau se inleiding tot The Soul of the Ape / The Soul of the Ant wat in 1990 by Jonathan Ball verskyn het.
Hierin vergelyk hy Marais se waarnemings van dieregedrag met dié van Chares Darwin en die Fransman Henri Fabre albei voorgangers van Marais in die wetenskap wat later bekend sou staan as die etologie: ``Of the three main characters in our story, Darwin undoubtedly laid the foundations of Ethology. Fabre produced a great body of observations, but made no attempt to draw conclusions from what he saw. Marais did'' (p. 55).
Rousseau wys daarop dat as Marais sy The Soul of the Ape in 1919 gepubliseer het, hy vandag wêreldwye erkenning sou kon gehad het. Hy was naamlik die eerste persoon in die geskiedenis wat so 'n groot groep primate vir so lank in hul natuurlike staat bestudeer het. Maar hy het koue voete gekry, sodat die manuskrip eers vyftig jaar later 33 jaar na Marais se dood gepubliseer is.
'n Belangrike rolspeler in hierdie ``sindroom'' was Marais se enigste seun; by Darwin weer was dit sy vrou Emma. Maar ek gaan nie hier die geheim verklap en daarmee die leser se plesier in Rousseau se fassinerende en vlot geskrewe uiteensetting bederf nie. (Leon Rousseau se Engels is uitstekend soos al reeds bewys is deur sy Engelse vertaling van Die groot verlange as The Dark Stream.)
Die Afrikaanse deel van dié boek, ``Die dowwe spoor van Eugène Marais'', is 'n informele agtergrond- en bronnegids by die biografie. Hier word bepaalde feite en name wat in die lewensverhaal verswyg of verdoesel is, vir die eerste keer bekend gemaak. Nuwe feite is ook verkry uit die Sotheby-versameling 'n groot aantal dokumente en ander stukke wat eers na die dood in 1977 van Marais se seun beskikbaar geraak het.
Rousseau vertel plek-plek ontroerend van sy besoeke aan Eugène Marais jr. tydens sy werk aan die biografie. Die latere gespanne verhouding tussen Marais en sy seun word hier ook vir die eerste keer versigtig aangeraak.
Die tragiese Marais-verhaal is klaarblyklik 'n lewenslange passie by Rousseau: ``Die gedagte om dit te skryf, het in 1946 ontstaan, toe ek aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad in standerd 9 was'', staan daar op bladsy 61. Hy was toe vyftien jaar oud en is geinspireer deur Irving Stone se lewensroman oor Van Gogh: Lust for Life. Leon Rousseau is ongetwyfeld die fundi van die Marais-aficionado's. Hy het wel 'n voorganger gehad in die persoon van F.G.M. du Toit wat in 1940 'n boek oor Marais die lig laat sien het.
Daar is te veel interessanthede in hierdie boek om op te noem. Vir oulaas nog ene. Marais het op 'n keer onsuksesvol aansoek gedoen vir die pos as direkteur van die Pretoriase Dieretuin. Rousseau vra dan die vraag: ``Hoe 'n goeie Dieretuin-direkteur sou Marais gewees het?'' Die antwoord is te vinde op bladsye 102 - 104 van hierdie boek, wat ek hartlik aanbeveel by Marais-aficionado's én novises.