Toe dit in Oktober 1963 in Kaapstad bekend geraak het dat n unieke versameling van 165 oorspronklike akwarelle wat onder toesig van Francois le Vaillant, die natuurkundige en reisiger, geskilder is en sy reise in die binneland van die Kaap die Goeie Hoop in die jare 1781-4 toelig, binnekort in Londen deur die firma Sotheby opgeveil sou word, het dit begryplikerwys in Suid-Afrika heelwat belangstelling gaande gemaak.
Francois le Vaillant is in 1753 van Franse ouers in Paramaribo in Nederlands-Guiana gebore en was reeds tien jaar oud toe hy Frankryk vir die eerste keer gesien het. Reeds op vroeë leeftyd het hy n belangstelling in die voëlkunde ontwikkel, en as jong man in sy twintigerjare het hy besluit om in vreemde lande te gaan reis en eksemplare te versamel. Hy het in Desember 1780 van Texel vertrek om na die Kaap die Goeie Hoop te vaar en het op 14 April die volgende jaar in Tafelbaai aangekom.
Die verhaal van sy twee reise, die eerste ooswaarts en die tweede noordwaarts van die Kaap af, word in sy twee reisbeskrywings vertel en in die onderhawige publikasie deur prof. V. S. Forbes bespreek. Le Vaillant het oor die jare die naam gekry dat hy hom aan n mate van romantiese oordrywing skuldig gemaak het, en ernstige twyfel is al geopper omtrent party van sy beskrywings van die land, veral in verband met sy bewering dat hy die Oranjerivier oorgesteek het, maar die onlangs verkreë skilderye toon in baie gevalle hoe noukeurig die beskrywings in die reël is. Tot dusver het sy roem in hoë mate berus op sy voortreflike groot boeke oor voëls, veral sy Histoire naturelle des oiseaux d Afrique, maar uit Suid-Afrikaanse oogpunt sal die ontdekking van die 165 akwarelle neig om die aandag meer op sy belangrikheid as reisiger toe te spits.
Die akwarelle kan kortweg in die volgende vier kategorieë ingedeel word: topografies 31, antropologies 39, sotilogies 48, en botanies 47. Hiervan is 32 as gravures gereproduseer in die eerste uitgawes van Le Vaillant se twee reisbeskrywings en nog 3 in die hersiene uitgawe van die eerste reisbeskrywing.