Main centres: | 1-3 business days |
Regional areas: | 3-4 business days |
Remote areas: | 3-5 business days |
Hennie Aucamp noem homself 'n obsessionele dagboekhouer. Hy het reeds as veertienjarige daarmee begin en nou as sestiger het hy ongeveer dreieduisend bladsye in hardeband-oefeningboeke volgeskryf. In 'n dagboekskrywer se lewe is daar egter "digter periodes" - met krisisse, reise of grootskaalse omwentelinge. Gekaapte tyd getuig van so 'n tydperk in Aucamp se lewe. Dis 'n verslag van 'n oorgang: Hy het op sestig as akademikus uitgetree op Stellenbosch en hom in Kaapstad gevestig, en hou nou sy eie aftakeling ("the artist as an old dog") en die van die stad met ironie, humor en angs dop. Die dagboek bestaan as't ware uit 'n reeks essays-in-die-kleine, waarin Aucamp se waarnemingsvermoë telkens verras, of hy nou 'n voorval op straat beskryf of 'n Karoo-landskap. Sy kommentaar op films, musiek, grafiese kuns, toneel en veral boeke (ook van onderskatte skrywers uit 'n vroeër era) dra die stempel van sy avontuurlike, skeppende ingesteldheid, en hy laat die leser ook inkyk op sy eie skryfprosesse. Uit jarelange vriendskappe en waardering groei portrette van merkwaardige persoonlikhede soos Lionel Bowman, Robert Mohr, Paul Malherbe, Rita Elferink en talle ander, terwyl sy omgee vir Afrikaans onthutsend en besielend bly opklink. Ook jeugherinneringe vorm deel van die binnelewe wat hier blootgelê word, 'n lewe wat ekstases ken, maar ook kwetsing. Oorheersend bly egter die gedagte aan verval: aan 'n stad wat brand; aan 'n naderende apokalips. Daardeur word Gekaapte tyd meer as 'n persoonlike dokument. Dis ook 'n sosiopolitieke tydsdokument - 'n boek wat inbrand op die gemoed.
Allersiele is die tweede dagboek.