Main centres: | 1-3 business days |
Regional areas: | 3-4 business days |
Remote areas: | 3-5 business days |
Daar het onlangs ʼn spesiale uitgawe van die Joernaal vir Eietydse Geskiedenis verskyn wat spesifiek gewy is aan die Grensoorlog (1966-1989). Daar is ook ʼn paar ander publikasies wat met hierdie tema verband hou, wat ek graag onder u aandag wil bring.
Joernaal vir Eietydse Geskiedenis
Jaargang 31 Nommer 3
Grensoorlog/Border War 1966-1989
Die gewapende magte van die Republiek van Suid-Afrika was gedurende die tydperk 1966-1989 (23 jaar) in die Noorde van die huidige Namibië en die suide van Angola in gevegte gewikkel met magte van PLAN (People’s Liberation Army of Namibia), FAPLA (regeringsoldate van Angola), asook elemente van Kuba en raadgewers uit die voormalige Oosblok-lande. Gemeet aan die norme van ʼn grootskaalse oorlog kan hierdie militêre optrede, wat in die volksmond as die Grensoorlog (of Bosoorlog) bekend geword het, bloot as militêre skermutselings beskou word. Vir die verskillende rolspelers was dit egter veel meer – vir hulle was dit ʼn oorlog waarin mense gedood en vermink is, bloed gevloei het en trane gestort is. Vanweë die klandestiene aard van hierdie militêre optrede word daar in Suid-Afrikaanse verband van die “mag-nie-weet-nie-oorlog” gepraat. Bitter min inligting is tydens die Grensoorlog vanaf die kant van die Suid-Afrikaanse Regering tot die beskikking van die publiek gestel. Slegs hoogs geselekteerde inligting is deur middel van enkele militêre joernaliste die wêreld ingestuur. In ʼn sekere sin is die sluiers na afloop van die Grensoorlog nog digter toegetrek. Hoofsaaklik vanweë die feit dat so min inligting oor die gebeure gepubliseer is, het die Grensoorlog deesdae ʼn uiters kontroversiële onderwerp geword. Al hoe meer boeke, artikels, video-opnames, briewe, ens. wat meer lig op hierdie konflik werp, begin verskyn. Dit is duidelik dat baie van die manne wat as dienspligtiges aktief aan die Grensoorlog deelgeneem het, nou aandring op meer inligting. Hulle, asook navorsers van militêre geskiedenis oor die hele wêreld, wil menige onbeantwoorde vrae opgeklaar hê. Hierdie publikasie is ʼn eerlike poging om enkele insigte te bied in ʼn onderwerp wat vir dekades lank as taboe beskou is. Daarom kan dit as ʼn bronnepublikasie dien wat hopelik hier te lande en oorsee as ʼn riglyn vir die opklaar van onduidelikhede en as stimulus vir verdere navorsing benut kan word.