Main centres: | 1-3 business days |
Regional areas: | 3-4 business days |
Remote areas: | 3-5 business days |
Terwyl die aandag in die veelvuldige publikasies oor Kaapse slawe steeds op die situasie tydens die anderhalwe eeu van VOC-bewind is, rig Van Bart in “Kaap van Slawe” hom daarteenoor op ontwikkelinge nadat hierdie bewind in 1795 tot ’n einde gekom en die Britse koloniale propagandamasjien voluit begin draai het. Die 19de eeu en die bepalende rol wat dit in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het, staan dus sentraal.
Heelwat aandag word ook gegee aan die breër konteks van die internasionale slawehandel, die uiteindelike Britse verbod daarop, sowel as die verband met die kolonisasie van die Afrika-kontinent. “Kaap van Slawe” is beslis ’n opspraakwekkende boek. ’n Belangrike populêre cliché onderliggend aan selfs die huidige politieke bedryf in die Wes-Kaap en ook elders in die land word hier uitgedaag. Dit is dat die VOC slawerny en ongelykheid na Suid-Afrika gebring het, en dat die humane Britse Ryk dit daarna steeds probeer teenwerk het.
Telkens staan ’n mens verstom oor Van Bart se onthullings oor ’n verskeidenheid situasies. Ook die “inboekstelsel” van die Voortrekkers wat van tyd tot tyd in populêre publikasies opduik, word hier in ’n nuwe konteks geplaas.
In Deel 1 word die breë konteks uiteengesit van die Eli¬za¬bethaan¬se Engeland se toetrede tot die slawebedryf, waarby bekende figure soos sir Francis Drake ’n infame rol gespeel het. Verskillende stadiums in sowel die ontwikkeling van die bedryf as die hantering van etiek en wetgewing in die Engelse wêreld word uitgestippel.
Deel 2 is toegespits op die situasie aan die Kaap, asook in die res van Suid-Afrika. Die rol van Britse slawehandelaars voor 1795 word ter inleiding geskets. Tydens die besetting van 1795 tot 1803 word die bestaande slawehandel-situasie omskep in ’n monopolie, wat deur onder andere lady Anne Barnard opgeteken is. Dit staan in ’n sterk kontras met die Bataafse Bewind, van 1803 tot 1806, waartydens die progressiewe regeringsideologie van ná die Franse Revolusie oorheers.
Vervolgens word die situasie ná 1806 beskryf. Dit sluit in goewerneur Caledon se “Hottentot-proklamasie” van 1809, ’n slawesmokkelnetwerk wat ontstaan het en wanpraktyke met ingevoerde Europese wesies. Die “ontdekking” van die binnelande van Afrika en die uiteindelike kolonisasie word eweneens in terme van die vraag na slawe-arbeid geanaliseer.
In die “Slotwoord” word die roede nie gespaar nie. Die skrywer spreek hom onder meer soos volg uit oor die navorsing en sy bevindings: “Kaap van Slawe is ná ’n dekade-lange soektog na inligting geskryf om die volle waarheid aangaande die slawebedryf in Suid-Afrika bekend te stel; om die skaal in balans te bring én dit tuis te bring dat as daar na die sondes van die vaders gesoek wil word, niemand vry te spreek is nie.”
Die boek is voorsien van ’n deeglike bronnelys en uitvoerige indeks, sowel as uitstekende illustrasiemateriaal.
ERKENNING: Bostaande oorsig is geneem uit prof. Wium van Zyl se resensie wat op 2 November 2012 in Die Burger verskyn het. Die volledige resensie kan steeds op Die Burger se webtuiste gevind word.