Main centres: | 1-3 business days |
Regional areas: | 3-4 business days |
Remote areas: | 3-5 business days |
Lammie van der Post is gebore in 1867 en het haar jeug in die woelige vroe jare van die Oranje Vrij Staat op 'n plaas deurgebring. Haar skooljare het sy by 'n rondreisende onderwyser begin in die dae toe daar net 10 skole met 348 leerlinge in die klein Republiek was. Lammie se vader was 'n gegoede man en sy het weelderig grootgeword. Skaars 22, trou sy met CWH [Christiaan] van der Post, lid van die Volksrand, kommandant in die Anglo-Boereoorlog en Hollandse Konsul. Nieteenstaande sy konsulaatskap [wat hom vrywaring bied], neem hy tog aan die oorlog deel en word, nadat hy gevange geneem is, deur die Britte na Stellenbosch verban. In 1914 kom hy tot sterwe, maar ten spyte van ernstige geldelike probleme, weier Lammie om bankrot verklaar te word; sy neem die skulde op haar en maak planne om vir 9 kinders, gelyktydig op skool en universiteit, te sorg. Op 79 gaan sy na Bechuanalland om 'n plaas te ontwikkel. Sy woon in 'n tent, bad voor sonop in die oggend in die dam en lees en skryf by kerslig. Boorgate word geboor, damme gebou en drade gespan. Lammie was trots en hardkoppig, maar onwrikbaar eerlik. Sy had die moed om enigiets aan te durf en die geloof om volgens haar oortuiging te lewe. Hoewel 'n fyn dame, was sy ook 'n geharde pionier tot die einde toe - "'n klein Napoleon,' het Stuart de Kok haar genoem. Lammie het in 1931 aan haar HERINNERINGEN begin skryf en werk met tussenposes daaraan tot kort voor haar dood in 1954.