| Main centres: | 1-3 business days |
| Regional areas: | 3-4 business days |
| Remote areas: | 3-5 business days |
Boek nog mooi - Die skrywer is 'n pragtige slim vrou en 'n goeie vriendin van my. >>> Die bui is moerig, beangs en verward. Vianne gaan deur n krisis, hoofsaaklik weens haar frustrasie veroorsaak deur die onvermoë om haar senutoestand en fragiele geestesgesondheid te verstaan. - Sy is n skynbare liewe mens. Geen drank, dwelms of mansprobleme nie. Net op die dun rand van algehele ineenstorting; dus vlug sy na die kus. - Hier woon sy alleen met haar honde, en eenvoudig. Met slegs herinnerings van haar besoeke aan die kliniek, wat sy so op sy naam noem. Sommer in die boek se eerste paar staccato-sinne: Ek soek die resep. Die een wat ek in die malhuiskombuis by Sophie gaan afsoebat het. Brownies. Harder en minder soet as dié wat mens uit die Sarie of Rooi Rose kan bak. - Drie karakters verskyn egter ongevraag in haar lewe, mense wat tussen haar brose bewussyn beweeg en help of dalk nie? om daardie gebroke skakels te herstel. En die karakters se stories, in stede van hul teenwoordigheid, is wat hulle op die ou end deurdra en sorg dat Vianne of dalk nie? in een stuk aan die anderkant uitkom. - Bettie die ouvrou kom affie plaas. Met stories oor n wrede pa wat haar ma mishandel en haar broer se lewe neem. Deur Bettie se verhaal word haar eie ma, Martha, ook ingesleep om n karakter te word en die verhaal neem n intrigerende verweefdheid in, met verrassende wendings en stemme vol melancholie, vertroosting en, soms, waansin. - Jan Plantjies is die ander meer geheimsinnige karakter. Woordeloos skoffel hy ongenooid in Vianne se tuin rond, sy rol nooit dié van verteller nie, maar iemand met n daadwerklike rol in die verhaal namate dit ontvou. - Dan is daar klein Frikkie. n Sewejarige pikkie uit n gebroke huis wat Vianne besoek sodat hy met haar honde kan speel. - Verlede en hede speel hul af deur die gespanne, stram vertelling. Net soos Vianne se versteurde gemoed, beweeg die gebeure, karakters en verwikkeling op n wipwarit van aangrypende emosies. Deur die slaggate van selfbejammering en soetsappigheid te vermy, sorg die skrywer dat die leser deur die vlotheid van die verhaal meegevoer word en deur die impak van die storie self aanklank by die karakter vind. - Haar vrae raak die leser sn. Wie is hierdie mense in my kop? Wat wil hulle hê? En, bowenal, waarom luister ek en waarom wíl ek luister? - Die storielyn skyn aanvanklik so verflenterd soos n stukkende Prozac-houer te wees, maar alles word soomloos byeengetrek op die laaste twee bladsye. Hoewel dit die leser mag laat met n vraag oor Vianne se vertolking van die werklikheid. - Die boek lewer veel, veel meer inhoud as wat die skamele 145 bladsye aanvanklik te kenne gee. Daleen Maas skryf in eenvoudige, kort sinne. Maar elke woord is tien keer omgedraai voor die neerpen daarvan, en só sorg die skrywer dat die relatief omvangryke verhaal bondig vertel word, maar sonder die geringste teken van onvolledigheid. - Dit is meesleurende skryfwerk wat buitengewone vakmanskap ten toon stel.