Ronel Lategan sit die swaar tas neer en kyk op na die man hier voor haar. Binne sekondes neem sy alles omtrent sy voorkoms in. Dis seker die blouste van blou oë wat sy nog gesien het. En daardie lyf kan geen mens miskyk nie. Breedgeskouerd, lenig en lank. Hy is sekerlik haar jare, dalk bietjie ouer, maar die parmantige, blonde kuif verleen aan hom ’n jeugdigheid wat dit moeilik maak om sy presiese ouderdom te skat. Sy skuif haar blik terug na sy oë. Daardie frons pas hom glad nie. Sulke oë behoort vrolik te vonkel, maar nou is dit streng op haar gerig.
“Dame, die leerlinge se ingang is aan die oostekant van die gebou, hierdie ingang is slegs vir die personeel. Ek neem aan jy bring jou dogter koshuis toe,” sê hy bruusk.
“Ek is ’n personeellid, Meneer, en is op pad na …”
Oorbluf kyk sy hom agterna toe hy sy rug op haar draai en wegstap sonder om te luister na wat sy sê. Verbrande ongepoetste man. Hy mag nouwel ’n netjiese agterstewe hê en die houding van ’n Griekse god, maar dit beteken niks as hy in hom ’n buffel huisves nie. “Ongeskikte javel,” brom sy en tel weer die swaar tas op. Plaas die vent aanbied om te help dra. Hoe kan hy dink sy bring haar kind koshuis toe as die skool eers oormôre begin.
“Ma is lekker vies vir die oom, nè,” sê Anri. “As hy nie so gou weggeloop het nie, het ek hom ook sowaar vertel hy dink hy’s kaas. Toemaar, ons sal hom seker nie sommer weer sien nie. Ek sal darem graag sy bakkies wil sien as hy moet agterkom wie ma is.