Main centres: | 1-3 business days |
Regional areas: | 3-4 business days |
Remote areas: | 3-5 business days |
1998, 2e druk. Hardeband. 189 bladsye. Baie goeie toestand. Besonderhede van vorige eienaar voor-in. Minder as 1kg.
WAT 'n voorreg om deur hierdie bobaas-verteller vermaak te word! Sowat van meelewing, sowat van vereenselwiging met 'n ander man se stories, het ek nog selde ervaar... Laat dit vertellinge oor alledaagse wel en wee wees dis 'n onderhoudende, humoristiese en dikwelse roerende mosaiek van ménswees. 'n Deel van die boek is sketse met verleentheid as die sentrale tema: van 'n onbedoelde plesierigheidjie met vroulike studente tot 'n beskamende episode met bobbejane wat Nortje en sy maat letterlik in die mis laat beland het... In 'n ander afdeling vertel hy hoe ingedagte-wees hom tot 'n val gebring het, in die kerk nogal. Dis goed dat Nortje nie daardie tyd sy nek gebreek het nie! Dis eweneens 'n vreugde dat hy glad nie ``"ken" op die "kierie"'' sit soos sommige van sy mede-afgetredenes in die Strand nie. Dis duidelik, daar's nog baie ink in sy pen. Veral as hy bly skrywe soos oor sy hondjie, Oubaas 'n worsie met die hart van 'n bulhond. Ek had trane in my oë toe ek die slot lees... Toe vra Nortje sowaar vergifnis vir ``dié stukkie sentimentaliteit'', en wonder hy of hy dalk kinds sou wees! Dan is 'n mens saam met hom sentimenteel, saam met hom kinds. James Herriot, bekend om sy dierestories, kon my nie so aanraak nie. Ontroerend, op 'n gans ander vlak, is die verhaal van die plaaswerker Jan Draf, wat vir die jonge Nortje 'n tweede pa was. Op 'n dag vind hy eienaardige mote in los riviersand, half onder oorhangende doringtakke. Hy vra vir Jan daarna. Ongemaklik erken dié dis sy bidplek daardie, dis sy knieë wat dié merke veroorsaak. Maar hoekom nie tuis bid nie? ``Mollie en die kinders pla my as ek met die Here wil praat. Ek weet Hy kan my hoor as ek met Hom praat, al raas dit ook. Maar ek kan Hóm nie hoor as Hy met my praat nie. Hier in die rivier is dit smoors vroeg baie stil.'' Nortje moes belowe om niemand daarvan te vertel nie. Die dankbare skrywer dink oplaas terug aan 'n toevalligheid wat Jan Draf in sy lewe gebring het en sê: ``Dit het van my 'n baie ryker en gelukkiger mens gemaak.'' Net só kan hierdie welwillende leser praat van "Ken" op die "kierie", waarin die beskaafde stem van P.H. Nortje só verfrissend helder opklink. Kortom dis 'n fees van 'n boek, vir proe-proe lees. Resensie Die Burger