Toestand: Goed. Een naam en kort boodskappie op skutblad. Stofomslag het bietjie verweer aan die bokant, verder goed.
Formaat: Hardeband met stofomslag
Bladsye: 131
Uitgegee: 1981 (Tafelberg)
ISBN: 0624016129
Veroorloof die samesteller n woord van erns voor die spotprenttekenaar se kuns van satiriese humor. Vanweë die merkwaardige trefkrag van die spotprent as eeue-oue beproefde medium om politieke en sosiale kommentaar te lewer, is behendig en deeglik van hierdie unieke grafiese kunsvorm gebruik gemaak, veral ten tyde van krisisse en wendinge in wêreld-gebeure, en in minder of baie belangrike insidente in n volk se geskiedenis.
Die uitbreek en verloop van die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902, met al sy onreg, tragiek, heroiek en felle partyskappe, sou die voor- en teenstanders van die stryd die uitnemende geleentheid bied om die spotprent, met sy voortreflike slaankrag, op heel besondere wyse (veral in Europa) aan te wend. Aan die spotprent is al n menigte eienskappe toegedig. Op sy pittigste is dit beskryf as n les in vinjet. Waar die skryfkuns genoodsaak is om eers die gebeure te beskryf voordat kritiese opmerkings daaroor gemaak kan word, is die spotprent in die unieke posisie om voorval en kommentaar gelyktydig weer te gee.
Die spotprent is altyd tendensieus; in sekere sin is dit skeefgetrekte kommentaar op menslike optrede. Die uitbeelding is n toespeling op die dwaashede en flaters van mense, en die werklikheid word onsinnig en selfs absurd voorgestel. Soos die naam aandui, bevat die spotprent elemente van spot, terg, hekel, koggel en selfs krasse vorme van hoon. Daarby is dit n sonderlinge of groteske voorstelling van n persoon of situasie deur bepaalde eienaardighede te oorbeklemtoon.