Main centres: | 1-3 business days |
Regional areas: | 3-4 business days |
Remote areas: | 3-5 business days |
CD and artwork in excellent condition.
As Kerkorrel en Sarah Theron destyds gepaste mondstukke vir Breytenbach se poësie was, is Laudo Liebenberg sekerlik die ideale kandidaat om nuwe lewe in die woorde van die bekende digter te blaas.
Die sanger pak ek wag in my hart toe met sy kenmerkende dreun-stem en n polsende beat, nes sy beste werk vir Bellville rockers aKING. Opwindend, onverwags, Liebenberg se bydra voeg onmiddelik iets tot Breytenbach se legende by: sy eerste gedig wat jou laat dans.
Theron en Kerkorrel se snitte het egter nie so goed verouder nie. Die produksie daarvan herroep die onsmaakliker aspekte van popmusiek in die 1980s en gemeet teen Breyten se eie, meer gevoelige weergawes van sy werk, kom hulle nie die mas op nie. Piet Botha se verslag sukkel ook om sy onderliggende narratief te laat vlam vat.
Dank die hemel vir Anton Goosen. Die Liedjieboer staan sterk waar die ander gekniehalter word, en liggaamsoefeninge / iets om aan te peusel bly nog n uitmuntende voorbeeld van Afrikaanse eksperimente in digtersmusiek. Goosen is wispelturig, dit is die stoutgat in hom wat aanklank vind met dié in Breyten en n funksionele, fantastiese interpretasie is die produk.
Maar wie kan beter Breyten as Breyten? Die werklike Beste van Breyten lê in sy voorlesings; die oomblikke wat hy laat vaar met die popmusiek-ambisies en sy magnetiese stem sonder steurnis te werk kan gaan. Wanneer die byklanke vir Breytenbach steun, soos met genesis genees, kry ons éers waarde vir geld.